
BIO:
Frederik (Ferdie) Mulder het grootgeword in die NG Kerk (Suid-Afrika), en kom uit ‘n gereformeerde evangeliese familie met ‘n passie vir die sending. In 2004 behaal hy ‘n BTh-graad met lof aan die Universiteit van Pretoria. Daarna verwerf hy ‘n MTh oor die opstanding van Jesus en ‘historiese Jesus’ navorsing, en onderneem navorsing in Oostenryk en Duitsland. In 2005 word Ferdie voorsitter van die NG Kerk student-organisasie in Pretoria en loots ‘n protesbeweging teen teologiese liberale professore wat die liggaamlike opstanding van Jesus ontken het. Die kerk en die universiteit het kant gekies en die professore wat die liggaamlike opstanding van Jesus ontken het beskerm, en Mulder is lewenslank uit die teologiese fakulteit verban ná die voltooiing van sy MTh. In 2007 verhuis hy en sy gesin na Engeland waar hy ‘n tweede meestersgraad in kerkgeskiedenis en bybelwetenskap aan Durham Universiteit in Engeland verwerf, met die fokus op debatte oor die opstanding in die vroeë kerk. In 2010 word hy lektor en PhD-kandidaat in Nederland, en fokus op onlangse debatte oor die opstanding van Jesus. Tussen 2012-2014 doen hy navorsing by Tyndale House, Cambridge en in 2016 verwerf hy sy PhD. Tussen 2017-2019 doseer hy teologie en bybelwetenskap in Engeland. In 2019 stig hy ‘Evangelical Platform’, ‘n bediening toegewy aan die bewaring van die Evangelie en die toerusting van Christene in ons ingewikkelde post-moderne tyd.
VOORWOORD:
Die uitdagings waarin ons as Christene onsself bevind in die 21e eeu is nie nuut nie. Elke geslag word immers opgeroep om “te stry vir die geloof wat een maal oorgelewer is aan dié wat God vir hom afgesonder het”. Die dringendheid van Judas se woorde weerklink in ons oortuiging dat die historiese en regsinnige Christelike leer nie alleen waar is nie, maar veel meer bevredigend is, beide intellektueel en persoonlik, as elke poging om deur kompromie die gesag van die Woord en ons Belydenisskrifte aan te pas by die onsekere intellektuele en kulturele begrippe van ons dag. Daarom bestaan die Evangeliese Platform bediening om:
MISSIE:
- Alarm te maak (Hosea 8:1) om hulle wat nie bewus is van die erns van die saak nie, wakker te maak.
- Lig te skyn in die donkerte om so aan Christene die regte pad te wys in hierdie onsekere tye (Matt 5:14).
- God se Woord te bring, sodat sy Kerk bemagtig en vry sal wees (Joh 8:32).
- God te eer deur die onvervalste evangelie van ons Heer en Verlosser Jesus Christus te verkondig met geloof, hoop en liefde.
TOEPASSINGS:
Christus se gawes aan die kerk sluit in herders en leraars met hul kritiese opdrag om gelowiges toe te rus, sodat hul nie heen en weer geslinger sal word deur elke wind van dwaalleer nie (Efesiërs 4:7-16). Ons fokus is om hulle te ondersteun, asook dié wat in opleiding staan vir die bediening.
Christus se liefde vir sy kerk is altyd voor ons. Daarom is ons bediening ook gefokus op die breër kerk. Elkeen moet ingelig en toegerus word om die waarheid van die leuen te onderskei.
Tans bestaan ons werk uit ~3 video’s per maand (sommige in Afrikaans, ander in Engels) oor ‘n verskeidenheid toepaslike kwessies wat Christene raak. As jy met Ferdie wil gesels kan jy hom direk kontak.
Ons hoop dat ons bediening gelowiges sal versterk om dit wat vals is te verwerp, die waarheid te omhels en om hulself toe te voeg by denominasies en plaaslike gemeentes waar die gesonde leer gekoester en bewaar word.
