Prof Dirkie Smit

Sien ook:


WD Jonker, JA Heyns, Op Weg Met Die Teologie vollediger aanhaling:

“Die ideaal van eietydsheid, van begryplikheid en toeganklikheid, van openheid vir en kommunikasie met die mens van ‘n bepaalde tyd, kan so ver gevoer word, dat die tydsgees uiteindelik die beslissende maatstaf vir die teologie en desnoods van die openbaring self word. Dan is dit nie meer God wat in Sy Woord vir die mens voorskryf wat hy moet doen en hoe hy moet dink nie, maar ten diepste die mens wat vir God voorskrywe. Van ‘n gesag waarmee die Woord van God oor die mens beskik, is hier dan geen sprake nie. Daarom is dit ‘n voortdurende versoeking vir die teologie om geestelike owerspel met die tydsgees te pleeg, en te vergeet dat sy eerste liefde en onverbreekbare verhouding die is vir en met die Heilige Skrif. ‘n Teologie wat hierdie weg opgaan, kan met reg van modernisme beskuldig word” (221-222).

“..dit [is] so ‘n groot verantwoordelikheid om met die gereformeerde teologie besig te mag wees. Dit kan nie anders gebeur nie, as in die biddende omgang met die Heilige Skrif en in die verwagting dat die Heilige Gees ons sal bewaar van al die dwaalwee wat telkens die weg van die waarheid kruis” (260).

“Die weg van die modernisme loop altyd weer op teleurstelling uit. Die geskiedenis het bewys dat ‘n radikale modernisme kerk-ontbindend werk en in elk geval nie sy doel kan bereik, naamlik om die moderne mens vir die Christelike geloof te wen nie. Die les wat daaruit geleer kan word, is dat die teologie sy kriterium van wat gesê mag word nie aan die moderne mens mag ontleen nie, maar alleen aan die Heilige Skrif as die Woord van God. Die geloof is nie die vrug van ‘n verstandelike insig in bepaalde waarhede nie. Dit is ‘n gawe van die Heilige Gees. Daarom is daar ook ‘n grens aan die moontlikheid van die teologie om die evangelie vir die mens verstaanbaar te probeer maak. Verkondiging van die evangelie in die taal van die moderne mens mag dan ook nooit beteken dat die evangelie aangepas word by die opvattings van die moderne mens nie, maar dit moet beteken dat die evangelie só gerig word op die probleme en vrae van die moderne mens, op sy sondes en vlug voor God, dat dit ‘n appêl op hom kan wees en ‘n oproep om hom aan die evangelie te onderwerp.” (266)